Dankfees 2014 FOTOS

Wat 'n basaar! Wat 'n belewenis!
 
Omdat Sutherland so hoog bo seëspieel geleë is, vertel ek vir my ou kollegas: ek werk nou naby aan die hemel. Hulle is nogal baie jaloers.
Ons het die afgelope naweek Dankfees gehad, asook die laaste nagmaal van die jaar. Vir my en Trienie het dit "naby aan die hemel" gevoel.
Ek het opnuut die geleentheid gehad om 'n basaar mooi te bekyk. Waar op aarde kry jy geleentheid waar mense so vrolik kan saamwerk en saamwees soos by 'n basaar? En op Sutherland is dit duisendmaal waar. Baie oud-inwoners kom spesiaal.
Ek sal die indrukke nie maklik vergeet nie. Ek sien nou nog die mooi tienerdogter (ek ken nog nie almal nie - maar gee net kans) wat iets kom koop. Sy staan met die mooiste glimlag voor die tafel en vra skamerig (hoe mooi kan skaamheid nie wees nie - veral by 'n tiener!): "tannie kan ek asb een hiervan kry". Daardie prentjie sal by my bly.
By die vleisbraaiery (sommer op groooottt skaal) is dit 'n gekorswel van 'n ander wêreld: "jongman, moenie speel met die anderkant van die rooster nie, man. Wil jy nou die wors op die grond laat val?"
Basaarpoeding is my swakheid. Trienie wou nie gehad het nie. Terwyl ek toe koop, koop ek sommer twee - albei vir my, dan hoef ek mos nie weer te gaan koop nie. En ek geniet dit - die een na die ander. By Johenco, tussen ons mooiste ouer mense, loop die storie toe sommer baie gou: "Ds het sommer sy en Trienie se poeding albei opgeëet" hemele behoed my - jy word baie fyn dopgehou! Maar hemele behoed my ook van doodlag oor die pragtige humor!
Niemand sal ooit weer kan sê 'n basaar is nie 'n mooi iets nie.
DS WILHELM JORDAAN
 
BASAAR 2014


































BASAAR 2013










 
 

1 comment: